Tiara

Thursday, December 01, 2005

Njammies...

-Tanya Weyers-
Met die koms van die somer het ek dit toepaslik gevind om die volgende resep ‘n prettige, pittige en absoluut heerlike slaai te maak. Die slaai kan jy sommer vinnig in die na-middag bymekaar slaan as jy dalk jou vakansie “babe” onverwags moet onthaal.
Tuna- en Noodle Slaai
Benodighede: (Gebruik jou diskresie oor die hoeveelhede, want dit hang net af van hoe streng jou dieet is en hoe erg jou dag se aktiwiteite was, d.w.s hoe groot jou aptyt is!)
Ø 1 Pak Skulpie noodles (ter aansluiting by die “see” tema ) wat reeds gaar gemaak en afgekoel is.As jy nie weet hoe om dit gaar te maak nie, volg gerus die instruksies op die pak.
1/2 Blikkie tuna
Baie Mayonaise
Rosyntjies
Agurtjies
Tamaties
Komkommer
Feta of blokkies kaas
(Eintlik, kyk net wat daar in die kas is en gebruik jou verbeelding. Trek ‘n Hilda op jouself!)
Meng alles saam (die heel groentes moet natuurlik opgesny wees in klein blokkies) en daar het jy dit. Gebruik net sout en peper na smaak en jy het ‘n wonderlike middag maaltyd. Geniet die vakansie!!!

Ons kief taal!

-Cecile Scholtz-
Hoe cool is ons taal nie?!! Afrikaans is, was en sal solank as ons dit praat, sing en ontwikkel ‘n taal wees om mee rekening te hou. Neem nou maar die HAT se vyfde uitgawe wat pas die lig gesien het. Daar is soveel nuwe, vars woorde in dat ek dit graag met julle wil deel.
‘n Meertydleerder – iemand wat ‘n jaar op skool herhaal
Die @ teken in ‘n e-posadres – ‘n aapstert
‘n Katelknaap – ‘n jong man op wie ‘n ouer vrou verlief raak
Bekdrywer – ‘n passasier in ‘n motor wat ongevraagde raad vir die bestuurder gee
Rap (die musiekgenre) word deesdae kletsrym genoem
Kisboude is die gevoel wat jy het as jy baie moeg is
EN Ja, selfs KIEF is nou ‘n erkende afrikaanse woord. Dit is om iets goed, positief, lekker en aanvaarbaar te beskryf.
Saam met Amanda Strydom juig ek “En ons kan rock in ons taal!”

Watter manne wil Kasteliete vry?

-Cecile Scholtz-
Is jy al ooit op straat gestop en gevra van watter tipe balpuntpen jy hou? Of wat die beste waspoeier vir silk pajamas is? Seker nie. Dis moeilik om te imagine hoe mense sou reageer, op hierdie boring vrae. “Een wat kan skryf” hoor ek ‘n paar girls sarkasties opmerk. “Dieselfde waspoeier as waarmee ek stinky kouse was.” Ja, presies wat ek gedink het.
Toe het ek bietjie verder gaan dink. Van watter tipe vrae hou meisies? Of waaroor praat ons? Dis amper so clichè om te moet sê mens noem dit ouens, kêrels, mans, boyfriends en adonisse. Ja, ons luv hulle, haat hulle kan nie sonder hulle leef, ook nie saam met hulle nie. Nou wonder ek: Is jy al ooit deur ‘n vriendin gevra watter eienskappe jy in ‘n man soek? “Jaaaaa, watse tipe vraag is dit? Natuurlik!!!! Dis mos ‘n vraag waarop jy ‘n lekker juicy antwoord kan uitdink.”
Die rondtes is gemaak en die antwoorde op hierdie vraag het gewissel vanaf mooi voete regdeur tot ‘n bed&*%$@#de man. Ekskuus? Ja, ek het ook maar net my koppie geskud vir die laaste antwoord. Maar gelukkig verskil smaak.
Hier is die girls se droommanne:
Heloise van blok F wil ‘n eerlike man hê. ‘n Eerlike kapenaar, let wel. So jammer, Brad Pitt is so uit soos koekies in die weeshuis. Verder moet hy donker hare en mooi ogies hê.
Suz was toevallig in die omtrek toe ek by Hanel gaan inloer het. Die sussies wil albei ‘n Christenman hê. Suz s’n moet groot hande hê en lank wees. Hanel s’n moet iets tussen die ore hê en eerlik wees. Dis ‘n vae begrip hierdie “tussen-die-ore-ding” Hanel. Want toe ek laas gekyk het is daar ogies, ‘n neus, ‘n mond en breins. Ons hoop en vertrou dat laasgenoemde die eienskap is waarna jy verwys. Nie dat mooi oë nie hoog op ons dames se lysies was nie. Trouens uit die 30 girls wat ondervrae is, het 4, mooi ogies as ‘n eienskap genoem. Rochelle wil ‘n surfer hê, maar dis nie al nie, hy moet doelgerig, lief vir God wees en Hom ken, en hy moet haar kan optel, sodat sy so lig soos ‘n veertjie voel. Sweeeeeeeeeeet. Soos in die movies waar die meisie opgewonde en uitgelate na haar kêrel se arms toe hardloop na ‘n lang skeiding tussen hulle—so moet dit wees. Sweeeeeeeeet. Haar partner in crime, Anneke Cloete is pas uit met Batman. Dit was ‘n verhouding wat net nie op vaste grond gebou was nie – en dis nou letterlik en figuurlik. Haar droomman moet kan dromme speel. Maar nie ‘n drummer wees nie. Die rock tipe look doen dit nie vir haar nie. Hy moet haar op haar plek kan sit en volwasse, maar onder die ouderdom van 40jaar wees. Kry mens van hulle Anneke???? ‘n Dame, wat liewer nie haar naam wil noem nie, het sonder om te blik of te bloos gesê dat sy ‘n man wil hê wat sterk is, mooi is, mooi boude en bene het en beneuk is. Now there’s a girl who likes them rough!! Die mees algemene dinge wat meisies wou hê word hieronder weergegee.
Vanaf die mees belangrike na die minste.

1. 30% van die 30 ondervraagde girls wil ‘n man van God hê wat eerlik is.
2.6,7% wil vir Jim Carrey hê. Nee dis net ‘n grappie, die man moet ‘n goeie humorsin hê. “Ek wil nie ‘n suurknol druk nie, dankie”
3. Mooi hande, ‘n liefdevolle man, en ‘n ou met mooi pikant-verpakte boudjies het 16,7% van die stemme gekry.
4. 13,3% wil hulle huidige kêrels hê en mooi ogies
5. 6,7% wil geld, ambisie en ‘n onvoorspelbare man hê en
skielik gee ek ‘n sug… is daar werklik net 3,3% wat na die ou se persoonlikheid kyk? Lyk vir my amper so.

Watter eienskappe jou droomman ookal moet besit, is dit my wens dat julle mekaar sal vind. Dat God julle vir mekaar so sal skaaf en voorberei sodat julle werklik gelukkig kan wees. mekaar onvoorwaardelik lief sal hê en Sy naam sal verheerlik.

Queens trou Bootsmanne

-Emme Reyneke-
13 Oktober is met groot opgewondenheid in die koshuis gegroet en die rede... Verlowing! De Wilgers het almal vriendelik by hulle klubhuis verwelkom, mits jy soos ‘n “pirate” gelyk het en darem ‘n ietsie te drinke gehad het.
Die outjies van ons nuwe sleep het almal verbaas met die kreatiewe “outfits” wat hulle aangehad het en die meisies het self nie te sleg gelyk nie. Wie sou kon raai dat soveel “pirates & gypsies” in een aand kan saamkuier.
Die verlowing was verseker ‘n sukses en net so was KASKENADE gebore. Dit was ‘n defnitiewe goeie begin met ons nuwe sleep. Ons kan maar net met opgewondenheid vir die feestelikhede van volgende jaar wag.

Amanda Strydom...Diva Duisend

-Elani Willemse-
Die Puk-koor het in die September vakansie die voorreg gehad om tydens Aardklop saam Amanda Strydom op te tree. Hierdie diva is beslis ‘n ikoon wat Afrikaans laat kook, maar dié keer het sy besluit om ‘n bietjie meer klassiek te gaan.
Prof. Awie van Wyk het Amanda verlede jaar genader om die Misa Criola en Navidad Nuestra saam die Puk-koor op te voer. Die Misa Criola, ‘n Spaanse mis, en die Navidad Nuestra wat die spaanse weergawe van die kersverhaal is, is ongeveer 90 jaar gelede deur Arial Ramirez gekomponeer. Die Misa Criola is al verskeie kere opgevoer, maar dit is die eerste keer dat die Navidad Nuestra in Suid-Afrika opgevoer is.
“Ek dink dit was Awie se passie vir musiek wat my oortuig het om in te stem om dit te doen.” Amanda het bietjie gehuiwer voordat sy die “ja” woord gegee het, omdat die sprong na klassiek redelik groot is vanaf die cabaret-genre waarvoor Amanda so bekend is.
Amanda het drie maande afgevat om die Misa Criola en Navidad Nuestra te leer, en om Spaanse lesse te neem sodat sy die teks perfek kon uitspreek.
Ek het ‘n paar koorlede gevra wat hulle indruk van Amanda was:
“Haar passie is aansteeklik. Sy was van die eerste repitisie af reg om ‘n show te gooi, en dit het elke koorlid beïnvloed.” “What a legend! Amanda is absoluut fantasties. Ek kan regtig nie glo dat een vrou so ‘n captivating persoonlikheid kan hê nie!”
Wat my nogal beïndruk het was toe Amanda een aand aan ons genoem het dat sy glad nie kan note lees nie. Dus is alle musiek op gehoor geleer, en al moet ek dit nou self sê, Amanda se weergawe was volgens my, baie beter as enige van die opnames wat ek al gehoor het.
Ja, nee, dit was ‘n ervaring en ‘n half. Ons het nou wel ons alies af gewerk, maar dit was deur en deur die moeite werd! Daar is ook sprake dat die Misa en Navidad by die KKNK opgevoer kan word, en ‘n paar opnames is ook in die pyplyn. Amanda wil glo die twee werke op CD neem, en daar is sprake dat Kyknet die werke op kers-oggend wil uitsaai. So watch this space!

Kellogg's Frosties

-Jolize Pretoruis-
“Vier torings en ‘n massive deur…” Daai eerste dag was hel. Met trane in die ogies het die dore koebaai gesê vir hul mammies en pappies en het die HK ons begin verskreeu.
Ek kan nou nog nie glo dat ek (en sommige ander) dit gemaak het nie. Of dat ons aan die einde van hierdie jaar staan nie. Maar soos my oorle’ ouma destyds gesê het – ons was sterk babas.
Daai eerste drie weke was erg. Na ‘n jaar in die koue noorde, het eerstens die hitte en tweedens, die “stap in ‘n ry!” en “kyk af, door!” en “groet mnr. Lamppaal” my amper duskant dood gehad. Nie eers te praat van “hier kom die HK, hier kom die HK, op die Potchefstroomse trein…” -alhoewel almal voor hulle siel weet ons kan in elkgeval enige iets hoor as die (vervloekte) trein verby kom nie!
In ‘n oogwink begin die klasse toe. Ek was van dag een af agter en het nooit regtig weer opgevang nie. Die SS was maar soos tradisie ons voorland en blah, blah... elke eerste jaar en persoon wat al ‘n door was ken die res van die storie. Junie vakansie was ‘n mylpaal. Van ons arme bloedjies, (ja, soos die Wes-Kapers) het vir die eerste keer weer hul ouers gesien het, en dit was ‘n lang pad terug na die nou vaal Potchefstroom. Wie (in his right mind) skeduleer in elkgeval ‘n semester toets reeks nét na ‘n vakansie?!? Dis mal!!! Maar so, dag na dag, event na event, raak ons die PUK en sy dinge gewoont.
Toe die shocker, net toe ons dink dat ons alles hier gewoont is, slát die tweede semester ons op dieselfde wyse as die Vrystaat die Blou Bulle in die Currie Beker finaal. Nuwe dosente, nuwe vakke (ja dit was nogal vir my ‘n skok), nuwe handboeke (waarvan sommige eers 3 weke voor die eksamen ontvang is…) en klasse op die Fanie.
Na die eerste helfte van die tweede semester was die Fanie ook nie meer so vêr, die vakke nie meer so vreemd en om klas te mis nie so erg nie.
Hier staan ek nou aan die einde van my eerste jaar en soos die ander dore het ek die jaar oorleef, maar dan moet ek ook eerlik wees ‘n paar ander goed het ongelukkig dit nie gemaak nie. Soos my punte en my slaap patroon (wat radikale verandering onder gaan het) Soms wens ek die lewe kan vir altyd so aanhou. Makliker, beter, stadiger… Girls besef julle watter voorreg dit is om hierdie mooi koshuis met sy fantastiese tuin te bly? Ek weet nie van diegene wat weggaan nie, maar ek gaan verseker die plek mis as ek eendag opskop…
Sterkte vir die eksamen. Dankie aan my mede-eerstejaars vir ‘n wonderlike jaar. Dankie vir elkeen in Kasteel vir ‘n suksesvolle, magic jaar. Geniet die vakansie. Net nie so baie dat jy nie wil terug kom nie. Ons het jou nodig…

Ai die rugby...

-Mariska Kelly-
Dis die Currie-beker finaal en Meyer Bosman het nou net vir die Cheetahs ‘n drie gedruk. Die laaste paar minute flits op die scorebord verby en met alle logika redeneer ek “…dis verby…” Die teleurstelling syfer deur my lyf . Diep, diep, diep binne my hart is daar nog ‘n tikkie hoop vir ‘n Bulls oorwinning.
Met die sekondes wat al vinniger verby flits, kwyn die laaste hoop ook stadig weg. Op Loftus is die blou vlaggies stil toe die eindfluitjie blaas. My selfoon lui, dis ‘n sarkastiese Cheetah-ondersteuner wat net haar kamma meegevoel wil betuig…ek sit die foon sommer in haar oor neer.
Dis ‘n modern day tragedy wat hom hier voor ons afspeel. Na soveel jaar is die beker nou uit die Bulls se hande uit. Vanaand gaan die manne en dalk sekere ou tannies hard kuier, Cheetah-ondersteuners om te celebrate en die Bulls-ondersteuners om hul sorge te “versuip”.
Die Sondag koerante sal dit natuurlik uitbassuin, die enigste bemoediging is dat teen Maandag sal Britney darm alweer ‘n oops gehad en dan is selfs dié nederlaag nie meer so erg nie.
Wat ek eintlik wil sê is dat die mens is darem maar ‘n snaakse ding is. Ons raak heeltemal ontsteld en bewoë oor 15 outjies wat ‘n nederlaag lei. In so mate dat die helfte van die ou Transvaal nie eers Sondag kerk toe wil gaan omdat hul steeds aan BLS (Bulls-lost- sindroom) lei. Besef ons rêgtig waaror die lewe gaan? Ek meen, jy lê nooit in die nag wakker omdat jy jou oor die oorlog in Irak bekommer nie en het jy jouself al ooit besimpeld gedrink oor global warming? Ek dink nie so nie
Ek verstaan die hele ding van teamspirit en trots en al daai dinge, but there is so much more to life. Ek dink net miskien was nodig dat die Bulls moes verloor. Ten minste het dit my weer ‘n les geleer. Dis tyd dat ons ‘n passie kry vir ons wêreld en sy mense, vir die dinge wat regtig ‘n verskil kan maak. So vir die wat steeds in wroeging is oor die Bulls se nederlaag en elke keer steek pyne in jou hart kry as daai simpel sms grappies deur kom, just let it go…whoosa!

Lord of the Silver Rings

-Bitty Viljoen-
Ek stap Maandag oggend van klas af terug koshuis toe en wonder vir ’n oomblik of ek op een of ander “Boot Camp” is. Dit lyk of daar S.O.S seine heen en weer gestuur word soos wat die son van almal se nuwe “Silver Rings” af reflekteer. Ek kan nie help om te begin wonder of daar nou ‘n nuwe sekte op kampus gestig is met die leuse “sex is great!”
Goed ek weet, ek oordryf nou erger as Bosman met sy Groot Marico stories en nee ek’s nie een of ander post era hippie, wat “make love, not war” wil uitbassuin nie. Al wat ek wonder is of elke ou wat daai ring aan sy vinger steek besef waaroor dit regtig gaan? Dat daar regtig ‘n “Smeugel-agtige” kreatuur is wat jou kan én sal aanval en met alle mag daai ring van jou vinger af wil verwyder?
Toe ek op skool was kon niemand ooit die vraag, “hoe vêr is te vêr” vir my neerlê en ‘n grenslyn trek nie. Dit het altyd op die einde daarop neer gekom dat jou liggaam ‘n tempel is en sodra jy ‘n situasie betree wat jou moontlik kan swanger maak, is jy op die afdraand pad. So what! Wat beteken dit? Why don’t you call a spade a spade, hoekom wil almal dit eers ‘n graaf noem? Bloot omdat mense wat my moes leiding gee net nie tot die punt kon kom nie, het ek vir lank ’n leuen geglo.
Dis die werklikheid: Seks is nie net waarvan jy standerd 5 in die voorligtings klas en dalk weer in matriek biologie geleer het nie. Die term seks omskryf soveel meer. Die grootste wanpersepsie wat bestaan is dat die “vat-vat” en ander “speletjies” wat met ‘n gevryery kan gepaard gaan as aanvaarbaar beskou word. Dít is die grootste bron van seksuele onreinheid. Ja girls, selfs die “hy het net aan my boobs gevat” deel is verkeerd. As jy dit vir my in matriek gesê het, sou ek vir jou gelag het, maar ek kan dit vandag saam met die Silwer Ring Thing beaam.

Die Bybelvers wat op die ring verskyn, 1 Tess 4:3.-4, lees uit die engelse vertaling soos volg: “God wants you to be holy, so you should keep clear of all sexual sin. Then each of you will control your body and live in holiness and honor”. Sien, dit werk so, sodra jy, sê nou maar, ‘n outjie toelaat om die hele “fondle with care” ding te doen, beheer jy nie meer jou liggaam nie. Jy mag glo jy is in beheer en jy is, want jy kan stop voor dit by seks kom, maar dis valse beheer. Beheer is om alles tot eer van God te doen, nie jou wil na te streef nie, maar Sy wil, om elke dag meer en meer soos Christus te word. So wees eerlik, waarom doen jy dit? Want dis lekker…ja, en die bron van diè lekker is wellus (lust) wat sonde is.
Stephen Arterburn sê in sy en Shannon Erthridge se boek Every Young Woman’s Battle “You are growing up in a culture that does not value sexual integrity and purity. Instead, it values instant gratification and pleasure at all cost” In Joshua Harris se boek Boy Meets Girl staan hy ‘n hoofstuk af daaraan om te verduidelik “How to Be Passionately in love and Sexually Pure” en die Silver Ring Thing span staan ‘n jaar van hulle lewe af om jong mense landwyd aan te moedig om hulself tot seksuele reinheid te rig. Is die nie genoeg rede om te besef dat dit werklikheid is en nie net ‘n nuwe foefie nie? Dat ons almal moet waaksaam wees teen diè “smeugel” a.k.a die duiwel wat ons so gereeld aanval op die gebied. Ek daag jou uit, gaan sit en dink weer hieroor, probeer dit vir jou werklikheid maak voor jy weer daai ring aan jou vinger steek. Is jou ring werklik ‘n “outward symbol of an inward decision?”

Bingleser 2005

Elani Willemse
Goed, ons weet almal nou al teen dié tyd dat Kasteel met De Wilgers sleep, maar Bingle-Sêr 2005 het maar net weereens bewys dat Kaskenade ‘n sleep gaan wees om dop te hou.
Die girls is al van vroeg die kwartaal besig om saam die De Wilgers manne te sing om voor te berei vir hierdie eerste amptelike sleep-aksie. En wat ‘n sukses! Kaskenade het daarin geslaag om ‘n show van top gehalte, en natuurlik skerp humor, te lewer, en die komplimente het net ingestroom!
Oefen sessies is afgeskop waar die twee geslagte apart sit, en mekaar net skaam-skaam beloer, maar teen 18 Oktober het ons darem al ‘n paar aksies ager die rug gehad, en was almal al dik pelle!
Van Veritas en VMN sal ons nou nie juis iets sê nie, behalwe dat beide enkelsêr wenners moes toekyk hoe Villagers en Heide die eerste plek voor hul neuse wegvat, en moes hulle maar met ‘n tweede plek tevrede wees. Wanda en Excelsior het derde geëindig.
Kasteel en De Wilgers het nou wel nie die top vyf gehaal nie, maar ons het darem daarin geslaag om ‘n goeie vriendskap te stig en die band te bou wat ons deur die jaar wat voorlê gaan dra. Madeleine is al klaar vol planne vir volgende jaar, en sê dat ons net moet dophou wat met eerstejaarskonsert en enkelsêr in 2006 gaan gebeur. Hier kom groot dinge!!

Meer oor dieHK...

Madeleine Erasmus
Kultuur en KOB
Gee vir my ‘n betekenis vir elke letter as die woord Kateel ‘n akroniem was.
Klas
Aristokraties
Smeulend
Trou-meisies
Elegant
Entoesiasme
Lief vir alles hier!
Is die koshuis ‘n woning? Waar/Vals en motiveer?
Waar! Kasteel het werklik ‘n unieke uitleg wat dit privaat dog intiem maak. Ons het pragtige tuin wat my hart laat jubel en die meisies is werklik oulik. Die gees in Kasteel is een van samesyn. Ons het fantastiese huisouers en IB. Ek voel veilig, geliefd en gerus in hierdie plek, my tuiste!
Noem drie dinge waarsonder jy nie kan klaarkom nie.
My God, my volk en my taal!
Wat sal jy nie weer doen nie?
My hare twee keer deur ’n kappie trek, perokside, dan per ongeluk pers kleur en weer oor kleur. Als binne 2 weke. Daar’s niks van my kroesies oor nie!


Mariaan Roode
Klerasie en Werwing
Beskryf jou gevoel teenoor ‘nblikkie Coke. Jy mag nie die woorde “ek” en enige woord wat “love” of die liefde gebruik nie.
Dit is vir my lawing na ‘n spanningvolle dag. Dit gee my ‘n ekstra hupstoot as dit voel of my battery op ‘n low hardloop. Dit is ‘n lafenis vir my siel sowel as my keel, dit ruk my uit die donkerste donker van donker.
Watter letsels het jy op jou lyf en hoe het jy dit gekry?
Ek het ‘n groot letsel op my linkerskouerblad, ek het dit gekry toe ek klein was en op ‘n wildsplaas gekuier het en die hek my teen die wildsdraad gewaai het. Dit was baie seer!
Met watter celeb sal jy graag ‘n affair wil hê, tell me more…?
Heath Ledger, ek wil graag my vingers deur sy blonde krulle in ‘n Knights Tale trek
Het ‘n deel van jou lyf ‘n naam en brei uit?
Ja, my naeltjie is my oh-oh. Weet nie hoekom nie, maar my Steven noem dit so.


Corisa Grobler
SJDD en Sekretaresse

As jy iets anders as ‘n mens kon wees vir ‘n uur, wat, wie sal dit wees en waarom?
‘n Arend… hoog bo die wolke waar ek alles van bo af kan bekyk en die groter prentjie kan sien.
Wat is die mens wat amper niks besit nie se beste bate in die lewe?
Hoop…dit is die kosbaarste besitting wat enige mens, ryk of arm, ooit kan hê
Watter plek op aarde wil jy besoek voor jy doogaan en hoekom?
Grand Canyon. Ek het nog net goeie goed van mense se asemrowende ervarings gehoor. Ek wil my eie ervaring en herhinnering gaan skep.
Wat behoort in elke kasteeldame se vanity case. Motiveer.
‘n Sjokolade. Mens kan nooit genoeg sjokolade hê nie. Selfs in jou vanity. Dit is mos net lekker om ‘n onverwagte verrrassing te ontdek.

Kasteelboom elektries vermoor

Volgens verskeie bloubloed ooggetuies in die monargiese hoofstad van die eiland PUKKE het vier ongeïdentifiseerde mans, gewapen met basdorstige kettingsae, verwoesting in die hartjie van die lower tuin gesaai op die oggend van die 17de Oktober.

Volgens ‘n prinses in die mees weste kant van die kasteel, het sy koorsagtig en natgesweet uit haar diep slaap wakker geskrik. “Ek het gedink dis ‘n herhaling van die Texas Chain Saw Massacre! Toe ek sien wat voor my venster aan die gebeur is, het ek, asof ek plasentaal aan die boom verbind is, vlou geval” Ander adelikes het ook die tragedie as ‘n dolk deur hul harte beskryf. “My oë het vol trane geskiet en ek het instinktief begin tjank soos ‘n wolf met volmaan” vertel Tienie Tulp.

Ons verslaggeefster op die toneel, Dalia Bloekom het die kasteel opsigter mev. Appeliefie oor die skokkende insident ondervra. Sy het ons verseker dat die boom reeds dood was, verder sê sy dat ‘n ander boom in sy plek geplant sal word. Goed en wel! So ons agterkleinkinders sal dan oor aggentaggentig jaar in sy koelte kan knibbel aan ‘n komkommerstukie van die Voorhuis?