Tiara

Thursday, December 01, 2005

Amanda Strydom...Diva Duisend

-Elani Willemse-
Die Puk-koor het in die September vakansie die voorreg gehad om tydens Aardklop saam Amanda Strydom op te tree. Hierdie diva is beslis ‘n ikoon wat Afrikaans laat kook, maar dié keer het sy besluit om ‘n bietjie meer klassiek te gaan.
Prof. Awie van Wyk het Amanda verlede jaar genader om die Misa Criola en Navidad Nuestra saam die Puk-koor op te voer. Die Misa Criola, ‘n Spaanse mis, en die Navidad Nuestra wat die spaanse weergawe van die kersverhaal is, is ongeveer 90 jaar gelede deur Arial Ramirez gekomponeer. Die Misa Criola is al verskeie kere opgevoer, maar dit is die eerste keer dat die Navidad Nuestra in Suid-Afrika opgevoer is.
“Ek dink dit was Awie se passie vir musiek wat my oortuig het om in te stem om dit te doen.” Amanda het bietjie gehuiwer voordat sy die “ja” woord gegee het, omdat die sprong na klassiek redelik groot is vanaf die cabaret-genre waarvoor Amanda so bekend is.
Amanda het drie maande afgevat om die Misa Criola en Navidad Nuestra te leer, en om Spaanse lesse te neem sodat sy die teks perfek kon uitspreek.
Ek het ‘n paar koorlede gevra wat hulle indruk van Amanda was:
“Haar passie is aansteeklik. Sy was van die eerste repitisie af reg om ‘n show te gooi, en dit het elke koorlid beïnvloed.” “What a legend! Amanda is absoluut fantasties. Ek kan regtig nie glo dat een vrou so ‘n captivating persoonlikheid kan hê nie!”
Wat my nogal beïndruk het was toe Amanda een aand aan ons genoem het dat sy glad nie kan note lees nie. Dus is alle musiek op gehoor geleer, en al moet ek dit nou self sê, Amanda se weergawe was volgens my, baie beter as enige van die opnames wat ek al gehoor het.
Ja, nee, dit was ‘n ervaring en ‘n half. Ons het nou wel ons alies af gewerk, maar dit was deur en deur die moeite werd! Daar is ook sprake dat die Misa en Navidad by die KKNK opgevoer kan word, en ‘n paar opnames is ook in die pyplyn. Amanda wil glo die twee werke op CD neem, en daar is sprake dat Kyknet die werke op kers-oggend wil uitsaai. So watch this space!

0 Comments:

Post a Comment

<< Home