Liewe Jannie...
Kan jy onthou toe jy nog in die laerskool was en jy elke dag omtrent 10 briefies geskryf het aan jou maaitjies? Of toe jy vir jou Ouma nog moes “Dankie sê” briefies skryf vir al die geskenke wat sy gekoop het? Beter nog, kan jy die “ Sal jy met my kys?” briefies onthou? Met die toepaslike Ja en Nee blokkies, natuurlik. Briefies was jou grootste bron van kommunikasie. Jy kon dit inkleur, versier met verskillende kleure penne en skelmpies rond stuur in die klas of onder jou “kys” se bank gaan sit.
Die brief is ‘n vorm van kommunikasie wat al vir jare in gebruik is. Dit het begin as ‘n tekeninge op rotse deur die Grotmense en is later ontwikkel na die gebruik van die alfabet, ink en papier. Deesdae in die moderne lewe, waar alles kleiner, vinniger en makliker moet wees het ons die gebruik van Epos en SMS’e wat stadig maar seker die gebruik van die tradisionele brief vervang. Dit is so hartseer om dit te dink want, daar is vir my niks so deel van ‘n mens se persoonlikheid soos ‘n brief nie. Dit is vir my een van die lekkerste dinge in die wêreld om te doen. Om op my bed te gaan sit, my gedagtes te orden en dit neer te lê ,met baie liefde ,vir die een wat dit gaan ontvang. Jy kan jou beste Sondag skrif gebruik of net vinnig ietsie krap. Jy kan prentjies by teken soos blommetjies , hartjies of stokmannetjies wat soen. Jy kan prente plak, woorde highlite, ondersteep, omkring net wat jy wil. Jou opsies is so wyd soos wat jou kreatiwiteit strek. As iemand ‘n brief van jou ontvang het jy iets vir daai persoon gegee. Jy het tyd gevat, moeite gedoen en van jouself gegee. Jy het nie net vinnig voor die rekenaar ingespring en ‘n paar woorde getik nie.
Daar is tog nog lekkerder dinge as om ‘n brief te skryf, en dit is om een te ontvang. Al daai afwagting. Jy loop na die posbus toe. Jy laat die pos uit en sien ‘n brief met jou naam op. Jou hartjie bons en jy wonder dadelik wat se geheime daarin opgesluit is. (Behalwe natuurlik as dit ‘n brief van die bank is of enige vorm van ‘n rekening!) Van waar in die wêreld dit vandaan kom, maar belangrikste nog, VAN WIE DIT IS! Dan kan jy die koevert gulsig oopskeur en die brief oor en oor lees, dit in ‘n boks bêre net om dit weer eendag te kan lees en daaroor te lag.
Alhoewel dit meer ekonomies, vinniger en makliker is om net vir iemand ‘n kort epos te stuur, is dit leweloos. Dis ‘n wit skerm met ‘n klomp swart letters op, niks anders nie. Daar is geen misterie, geen “magic”, geen persoonlikheid nie. Kom ons hou op om so lui te wees , tel ons penne op en skryf vir iemand vandag ‘n briefie. Glo my, dit sal hulle dag maak.
0 Comments:
Post a Comment
<< Home