Tiara

Tuesday, May 31, 2005

Blok F trék en K sing agterna!

In hul massas het hulle opgetrek – in rooi, swart, pienk en blou – om vir mekaar te probeer bewys wie nou eintlik die heerser van die Kasteel is.

Die sportnaweek, wat plaasgevind het op 6 en 7 Mei, het afgeskop met ‘n volleyball ”toernooi”, waartydens daar meer geduik as gespring is, en waar die deelnemers soos wafferse rugby-“boffins” op die grond rondgerol het. Langs die baan het die ondersteuners mekaar ewe passievol die stryd aangesê, maar Fiesta, alias die Swart Katte, het met die louere weggestap, tot groot teleurstelling van die Geelperskes.

Saterdagoggend vroeg het kleurvolle K’s oral gepryk om die ander te intimideer. Maar die strydwaens (voorheen bekend as Pick-n-Pay-trollies) en katastrofes van die ander blokke, het hulle sleg op hulle neuse laat kyk.

Ten aanskoue van die jillende ondersteuners, is daar tydens die trollieresies uitgevind wie die eintlike vrate in Kasteel is. Die driebeenresies, eierdraresies en die eiergooi het vir groot vermaak gesorg en die meisies se spangees en spiere is getoets.

Die hoogtepunt van die naweek was natuurlik die Eerstejaars-Senior-rugby, waar daar teleurstellend min Eerstejaars opgedaag het. Die seniors het, soos dit ‘n klomp seniors betaam, die eerstejaartjies oordonder en ‘n anonieme doortjie het gesê dat dít slegs gebeur het omdat hulle so baie respek vir die seniors het.

Algeheel het Fiesta as wenners uit die stryd getree met Gidja tweede, Kommawee derde en Jislaaik vierde. Blok K het vir die derde plek opgemaak deur voor in die ry te wees met die gees.

Die sportnaweek was ‘n reuse sukses, en deelnemers sowel as ondersteuners het hulle gate uit geniet. Koshuislede het bymekaar uitgekom en mekaar weer gevind en almal kan nou weer saamstaan en ‘n beeld van ondersteuning en medemensliefde na die res van die PUK uitstraal.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home