Tiara

Saturday, May 20, 2006

KASKENADES in 'n ander land

Therese Mitchell
Vir die van julle wat mag wonder, ‘n paar van ons was die April vakansie saam met De Wilgers op ‘n Mosambiekuitreik.

Ons het omstreeks 10:30nm die 1ste April vanaf De Wilgers vertrek. Ons was 20 studente, dertien was mans en sewe van die skoner geslag. Vervoer het uit ‘n kombie en twee bakkies bestaan. Die eerste uur of so was almal gesellig, maar daarna het klaasvakie se sandjies koning gekraai. Ons het verskeie kere gestop…dit was die eerste keer in ‘n lang tyd dat ek vieruur die oggend ‘n koppie koffie gedrink het. Ons het die volgende oggend by die Buikbrug grenspos aangekom. Ons was seker vir min of meer drie ure daar gewees, want niemand kon vir ons aanvanklik inlig oor in watter lyn ons moes staan nie. Uiteindelik in ‘n lyn het die stress ons getakel, want in een van die sleepwaens was ‘n deepfreeze vol vleis en in ‘n ander een slaapsakke gevul met lekker beestjoppies en worsies. Vir die van julle wat nie geweet het nie, dis onwettig om vleis oor die grens te vat. Ons het toe begin bid dat hulle ons nie moet deursoek nie, want as hulle die vleis kry, sal ons vir twee weke soos vegetarieërs moet leef! Gelukkig vra hulle toe net ons paspoorte en laat ons deurgaan. Wat ‘n wonderwerk! Die aand ariveer ons by Zimabwe se grenspos en het so 30 minute daar deurebring waarna ons die laaste stukkie na Mafora afgelê het. Dit was reeds donker toe ons by die eindbestemming ariveer en almal het net een doel voor oë gehad, dit was om so gou moontlik uit te pak en hul opblaas matrasse vol lug te kry.

Soggens ses uur het ons bybelstudie gehou en sewe uur was dit tyd vir oggendete. Ons was miskien in die vreemde, maar ons kos het nooit afgesteek nie. Ontbyt het bestaan uit plaatkoekiess, eiers, spek, mielepap of oatspap en pouws (‘n mosambiekbroodjie). Die manne het in die twee weke ‘n huis gebou (in stortende reën), ‘n verhoog asook die hekke van Jerusalem, ‘n koei gemelk, beeste ingespuit, geverf, die donkie gestook, gebraai en nog aan die konsert geoefen. Ons girls het met die kiddies gespeel, “container” reggepak, Noag se ark met al sy diere in een van die kamers in die weeshuis geverf, ‘n partytjie gereel vir een van die weeskinders, ‘n skooltjie besoek in Gondola, gehelp met die skoonmaak van ‘n nuwe kerk en die bemarking daarvan en ‘n vrou se badkamer skoon gemaak. Nurs Betty het nog in die kliniek ook gewerk en elkeen van ons wat mediese aandag nodig gehad het, met liefde en baie geduld behandel. In die aande het almal lekker om die kampvuur gekuier. Laaste maar nie die minste nie het die mense daar (kleintjies ingesluit) twee Afrikaanse woorde geleer…LEKA YA!

Daar is nie genoeg woorde om die natuurskoon daar kan beskryf nie. Alles is groener, die skoenlappers groter met meer helder kleure, die spinnekoppe baie, baie groter en meer vreesaanjaend. Ja, die meeste van ons het in die donker gaan emmer (jouself in ‘n skottel gebad) sodat jy nie kon sien hoe hierdie gediertes jou in die donker beloer nie. Die terugtog was hartseer, maar tog het daar ook blydskap geheers oor die gedagte om weer terug te wees in jou eie land.

Die bande wat gesmee is en die herhinneringe wat gebou is sal vir ewig ons elkeen by bly. Die uitreik was om die mense daar te dien, maar ek dink hulle het ons soveel meer gedien met die vreugde wat hulle aan ons verskaf het. Hoop dit is so beskore dat almal van julle volgende jaar ook daar kan wees.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home