Tiara

Tuesday, May 31, 2005

Aksie attraksie

Aksie attraksie
- Emmé Reyneke

Doorwees het sy voor- en nadele en een van daai nadele is die geen uitgaan reël. So wanneer daar 'n aksie is soos my gunsteling boek saam met Caput, maak jy seker dat jy nie 'n stukkie van die aksie attraksie mis nie.

Na 'n lekker joligheid in die vierkant met die talentaand wat gehou is, is die Kasteel dames in hulle hordes na Caput om met die manne te kuier, te dans en ...

Woensdag, 11 Mei het weer groot verwagtings opgelewer en oortref. Die Caput manne weet toe wat die woord aksie beteken en hoe om dit baie lekker te maak. Pons en games was aan die orde van die dag en het 'n baie lekker aand verseker.

Enige iemand wat daar was sal kan getuig dit was defnitief 'n aksie om onthou te word.

Blok F trék en K sing agterna!

In hul massas het hulle opgetrek – in rooi, swart, pienk en blou – om vir mekaar te probeer bewys wie nou eintlik die heerser van die Kasteel is.

Die sportnaweek, wat plaasgevind het op 6 en 7 Mei, het afgeskop met ‘n volleyball ”toernooi”, waartydens daar meer geduik as gespring is, en waar die deelnemers soos wafferse rugby-“boffins” op die grond rondgerol het. Langs die baan het die ondersteuners mekaar ewe passievol die stryd aangesê, maar Fiesta, alias die Swart Katte, het met die louere weggestap, tot groot teleurstelling van die Geelperskes.

Saterdagoggend vroeg het kleurvolle K’s oral gepryk om die ander te intimideer. Maar die strydwaens (voorheen bekend as Pick-n-Pay-trollies) en katastrofes van die ander blokke, het hulle sleg op hulle neuse laat kyk.

Ten aanskoue van die jillende ondersteuners, is daar tydens die trollieresies uitgevind wie die eintlike vrate in Kasteel is. Die driebeenresies, eierdraresies en die eiergooi het vir groot vermaak gesorg en die meisies se spangees en spiere is getoets.

Die hoogtepunt van die naweek was natuurlik die Eerstejaars-Senior-rugby, waar daar teleurstellend min Eerstejaars opgedaag het. Die seniors het, soos dit ‘n klomp seniors betaam, die eerstejaartjies oordonder en ‘n anonieme doortjie het gesê dat dít slegs gebeur het omdat hulle so baie respek vir die seniors het.

Algeheel het Fiesta as wenners uit die stryd getree met Gidja tweede, Kommawee derde en Jislaaik vierde. Blok K het vir die derde plek opgemaak deur voor in die ry te wees met die gees.

Die sportnaweek was ‘n reuse sukses, en deelnemers sowel as ondersteuners het hulle gate uit geniet. Koshuislede het bymekaar uitgekom en mekaar weer gevind en almal kan nou weer saamstaan en ‘n beeld van ondersteuning en medemensliefde na die res van die PUK uitstraal.

Kasteel Sport, gaan vir goud... - Jolize Pretoruis

Uit menige mond klink die woorde: “Kasteel doen baie goed met hulle sport hierdie jaar.” Kasteel-sport het hierdie jaar weereens bewys waarom Kasteel ‘n koshuis is om mee rekening te hou – op alle gebiede.
Tydens O&B het die Eerstejaars die sportjaar op ‘n hoë noot afgeskop toe hulle tydens die eerstejaarsatletiek algeheel vyfde geeïndig het onder leiding van “We love you, Kasteel” en “Sakke Pakkie” wat heeldag van die pawiljoen af weerklink het.
Later in die kwartaal het die Pluimbalspan ‘n negende plek behaal en die Skaak het met goeie skuiwe en logiese denke derde in hul liga geeïndig.
In die Tweekamp het die Eerstejaars weer uitgeblink toe Adellé Hoepfner eerste in die vroueafdeling gekom het. Kasteel was algeheel vierde met die Tweekamp kampioenskappe.
Die Volleyball-“girls” het hul goed van hul taak gekwyt en eerste in hul liga geeïndig. Hulle het tydens die Superbowl ook skoonskip gemaak van die ander Universiteite toe hulle saam met Verwoerd Manskoshuis van Kovsies en individueel, die eerste plek op die podium ingeneem het.
In vanjaar se Touchies-toernooi, het ons Kasteel meisies stof in die ander se oë geskop en eerste geeïndig.
Die drie spanne wat vir die Netbal-liga ingeskryf was, het al drie hul staal gewys deur onderskeidelik eerste (Kasteel 1 en 3) en tweede (Kasteel 2) in hulle onderskeie ligas te eindig.
Met sulke uitstekende prestasies, is ek van mening dat elke Kasteel Dame dit net ‘n eer kan beskou om deel te wees van so ‘n puik koshuis. Dankie aan al die sportvroue en hul gillende ondersteuners, wel gedaan, girls!
Met die ter perse gaa, was die sokker en hokkie uitslae nog nie beskikbaar nie, omdat die liga’s nog aan die gang is. Ons verneem egter dat beide hokkie en sokker baie goed vaar. Die sokker is deur na die semi-finaal toe en moet nog in daardie afdeling meeding. Sterkte!